Marcus & Menine
Ons Storie
’n Clarens-vrou, ’n lang pad en ’n storie wat presies op die regte tyd begin het.
Ons storie is besonders, want ons glo die Here het dit lank voor ons ontmoeting begin skryf.
Menine het vir jare vir haar toekomstige man gebid en soms begin wonder of hy ooit sou kom. Marcus het weer vasgehou aan die gevoel dat hy vir sy “Clarens-vrou” moes wag.
Op ’n warm Septemberaand in 2023 het Andrea, Menine se sussie, saam met Marcus en vriende gekuier. Toe Marcus noem dat hy steeds op sy Clarens-vrou wag, was Menine juis daardie naweek in Clarens. Toeval vir sommige. Vir ons, deel van God se plan.
Ons het ontmoet en begin gesels. In Februarie 2024 het ons paaie weer gekruis en het ons al hoe meer begin kuier. Arme Marcus het baie ver gevry.
En toe het ons storie eers werklik begin.
Die Cederberge is ’n plek van wonderwerke.
Die Cederberge is Menine se gunsteling plek op aarde. Daarom het Marcus geweet daar is geen beter plek om die groot vraag te vra nie.
Ons het die dag saam met Anina, Mia, Lisa-Lodene en Ryan deurgebring. Die plan was eenvoudig: neem mooi foto’s, geniet die dag en maak herinneringe. Marcus het natuurlik nog ’n plan gehad.
Ons het by die Stadsaalgrotte begin, waar ons saam gesing en ’n besonderse herinnering gemaak het. Daarna het ons by ’n wynplaas gaan kuier. Marcus het selfs die ring vir die personeel gewys en vir ’n oomblik gedink om Menine net daar te vra.
Maar hy het gewag.
Later het ons na Oom Jannie-hulle se uitkykpunt gegaan. Met die Cederberge om ons het Marcus vir Menine ’n briefie gesê en toe die groot vraag gevra:
“Ja!” Tussen baie trane en groot opgewondenheid. Daar het ons vir altyd begin. Nou sien ons uit na 17 April 2027, wanneer ons die volgende hoofstuk saam met julle vier.


